OPGEDATEERDE KOMMUNIKASIE
31 Januarie 2012
Die Direksies (“Die Direksies”) van die Geherstruktureerde Sharemax Groep berig as volg.
REËLINGSKEMA PROSESSE
1. Die Direksies is bly om aan te kondig dat die Hooggeregshof al die Reëlingskemas met betrekking tot die Zambezi Maatskappye, die Villa Maatskappye en die Inkomsteplan Maatskappye, soos gedurende November 2011 aan die betrokke skemakrediteure en skema-aandeelhouers voorgestel, bekragtig het.
2. Die betrokke Hofbevele wat die Skemas bekragtig het, is by die Kommissie vir Maatskappye en Intelektuele Eiendom geregistreer ingevolge die bepalings van die Maatskappywet.
3. Die Skema met betrekking tot die Groeiplan Maatskappye, soos gedurende November 2011 aan die betrokke skemakrediteure en skema-aandeelhouers voorgestel, was gedurende Desember 2011 goedgekeur en aanvaar ingevolge die bepalings van die Maatskappywet.
4. Soos voorsiening voor gemaak in die Skemas, het die Registrateur van Banke, kragtens die Bankwet, amptelik die Direktiewe wat gedurende September 2010 uitgereik is en wat betrekking gehad het op die terugbetaling van fondse, ten opsigte van Sharemax Investments (Edms) Beperk, al die Sharemax Sindikasie Maatskappye en die Individue teen wie die Direktiewe uitgereik was, teruggetrek.
5. Voortvloeiend uit bostaande, het al vier die Skemas met ingang van 20 Januarie 2012 onvoorwaardelik geword.
6. Die vertraging in die bekragtiging van die Zambezi, Villa en Inkomsteplan Maatskapye word betreur. Dit was veroorsaak deur die optrede van partye wat gepoog het om tussenbeide te tree in die bekragtigingsproses van hierdie Skemas, onder omstandighede waaroor die Direksies nie beheer gehad het nie. Hierdie partye het hul tussenbeidetredende aksies teruggetrek. Behalwe vir addisionele regskostes wat die Sharemax Sindikasie Maatskappye moes aangaan om die gepoogde tussenbeidetredende aksies teen te staan, het die vertraging geen verliese of verdere kostes vir die Sharemax Sindikasie Maatskappye tot gevolg gehad nie.
7. Aandag word daarop gevestig dat die Direktiewe en die effek daarvan, sedert Oktober 2010 tot die datum waarop die Direktiewe teruggetrek was soos hierbo vermeld, onder formele Regshersiening was.
8. Die Direksies is tevrede dat daar geen oortreding van die Bankwet bestaan ten opsigte van die Geherstruktureerde Sharemax Groep wat ‘n negatiewe impak, of enigsinds, op die voortgesette bedrywighede en/of die bates van die Geherstruktureerde Groep kan hê nie.
9. Die Direksies is ook tevrede dat daar geen onwettigheid bestaan in die Geherstruktureerde Groep wat die bedrywighede van die Geherstruktureerde Groep of die geherstruktureerde belange van die Beleggers in die toekoms kan beïnvloed nie.
10. Die Direksies wil ook hul dank uitspreek teenoor al die duisende Beleggers wat so oorweldigend ten gunste van die aanvaarding en goedkeuring van die Skemas gestem het. Meer as 99,5%, beide in getal en in waarde, het ten gunste van die Skemas gestem, tot die beste voordeel van al 34 000 Beleggers.
11. Die Direksies het begin met die implementering van die Skemas en die suksesvolle herstrukturering van die historiese Sharemax Sindikasie Maatskappyegroep, voortvloeiend uit die suksesvolle Reëlingskemaprosesse.
12. Die historiese Sharemax Sindikasie Maatskappyegroep is nou ‘n ongelukkige hoofstuk in die geskiedenis.
13. Die Direksies en die Beleggers kan nou uitsien na die toekoms en waardetoevoeging tot die bedrywighede van die Geherstruktureerde Groep en die bates waarin Beleggers histories belê het en nou belê bly met hulle geherstruktureerde belange.
14. Die Direksies sal alles in hul vermoë doen om waarde te ontsluit in die beste belange van Beleggers, nie net ten opsigte van maandelikse inkomste nie, maar ook ten opsigte van die maksimum terugbetaling van kapitaal soos voorsien in die Skema Omsendskrywes.
15. Sake gaan voort soos normaalweg sonder risiko van inmenging deur derde partye met agendas gemik op geldmakery uit onverdiende en ongegronde likwidasie, geregtelike bestuur of soortgelyke prosesse, wat geweldige swaarkry veroorsaak het en wat bygedra het tot verlies aan waarde van die historiese Sharemax portefeulje.
16. Die Direksies het reeds begin met die verkryging van kort- en langtermyn befondsing om, onder andere, verskeie van die winkelsentra binne die Geherstruktureerde Groep op te gradeer met prioriteite die voltooiing van die padwerke by Zambezi Mall, die voltooiing van die huidige opgraderingsprojekte en die optimale verhuring in al die sentra.
17. Die Direksies is ook in gesprek met verskeie partye rakende die voortsetting van die Villa Mall projek so spoedig prakties moontlik.
18. Die Direksies wil dit beklemtoon dat daar geen basis of rede bestaan vir enige geregtelike of statutêre oorsig of toesighouding van enige aard ookal oor die bestuur en sake van die Geherstruktureerde Groep nie en dat al die bedrywighede van die Geherstruktureerde Groep onder die beheer van die Direksies is en wat, tot die mate soos verlang deur die betrokke bepalings van die Skemas, met die Ontvangers saamwerk.
19. Die Direksies bedank die Suid-Afrikaanse Reserwebank vir die geleentheid wat aan die Direksies gegun was om die herstrukturering van die historiese Sharemax Sindikasie Maatskappyegroep te bewerkstellig tot die mate waartoe die herstrukturering so suksesvol afgehandel kon word en wat die Geherstruktureerde Groep as resultaat het.
20. Die Direksies bedank ook al die Adviseurs vir hul waardevolle bystand tydens die herstruktureringsproses.
VERDERE VORDERING
Verdere gereelde vorderingsverslae en opdaterings sal volg so spoedig as prakties moontlik met inligting rakende spesifieke eiendomme, hul opgradering en ontwikkeling.
Neem ook kennis dat hierdie inligting ook op die Frontier webtuiste www.frontieram.co.za beskikbaar sal wees. U word uitgenooi om die webwerf te besoek vir gereelde opdaterings en agtergrond inligting.
Beleggers sal direk per sms ingelig word van enige kommunikasie wat op dié webtuiste geplaas word.
Neem ook asseblief kennis dat slegs hierdie webtuiste, sms’e, telefoniese en persoonlike kommunikasie, insluitend e-posse en briewe, direk na en van Beleggers, voortaan die amptelike kommunikasiemedia sal wees wat deur die Geherstruktureerde Groep gebruik en erken sal word.
Navrae kan direk gerig word aan die Frontier Kliëntediens by 0860 77 77 22 of e-pos aan admin@frontieram.co.za